《Ontvang die prys van die lewe》

6 Apr 2020 by Anze Nel

Paasfees is om die draai! Ek het hierdie stuk gekry wat baie vir my beteken gedurende die tyd❤

Een na die ander bly hulle in die slag. Die reuse van die sportwêreld, die bakermatte van ons kulturele landskap. Die KKNK. Die Two Oceans. Formule 1 wedrenne. Wimbledon en die Olimpiese Spele het probeer vasbyt. Gebid vir ‘n wonderwerk. Maar self daardie wêreldgeleenthede is nou uitgestel of selfs afgestel. Jare se beplanning, maande se werk en kluise vol geld. Maar meer nog, duisende mense se drome is verpletter. Vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog sal daar nie aarbeie en room op WImbledom bedien word nie. Dit is hoogs waarskynlik dat nie een van die Williams susters of Roger Federer dan ooit weer daar sal speel nie. Dat baie atlete volgende jaar te oud gaan wees vir die Spele waarvoor hulle ‘n leeftyd lank geoefen het. Dat niemand op ‘n podium gaan staan terwyl ‘n goue medalje om sy nek gehang en sy land se volkslied gespeel word nie.
En oral om ons word meer en meer geleenthede gekanselleer. Kerkdienste, Konserte, fondsinsamelings, troues. Begrafnisse word skielik beperk tot ‘n handjievol mense. Mense het allergies vir mekaar geword. ‘n Gesonde fisiese afstand moet gehandhaaf word.
Maar in die lig van al hierdie ongekende veranderinge en selfs verwarring in ons lewens, is daar een sekerheid wat vasstaan. Niemand kan Paasfees kanselleer nie. Niemand kan die gebeure op Golgota verklein tot ‘n wêreldse gebeurtenis waarvan die toekoms in die hande van ‘n komitee of ‘n paar mense lê nie.
Ons mag dalk nie vir die volgende paar maande juig oor iemand wat oor ‘n wenstreep bars of ‘n gunsteling rugbyspan wat ‘n drie druk nie, maar ons het beslis rede om te juig!
Die gebeure rondom Jesus se kruisiging is nie afhanklik van ‘n klein virusmolekule of besluite van wêreldleiers nie. Die grootste Leier het hierdie gebeure al lank voor die mensdom se koms beplan. Vir meer as tweeduisend jaar kon geen wêreldgebeurtenis nog Paastyd ontwrig nie. En ons geestelike ervaring daarvan is nie verbind aan ‘n kerkdiens op Goeie Vrydag nie. Ons intens persoonlike ervaring van Paastyd word nou op die voorgrond geplaas. Niemand kan Paasfees kanselleer nie. En hierin lê ons troos. Ongeag wat die nuus berig, wat statistieke voorspel, onsekerheid oor wanneer ons weer werk toe en skool toe sal kan gaan, die vrees vir siekword, staan die volgende waarheid vas: Paasfees kom. Tyd om ons te herinner dat die kruis vir ons verlossing bewerk het. En dat geen aardse siekte dit van ons kan wegneem nie. En in hierdie lig verander die manier waarop ons dink oor wenners wat trots op ‘n podium staan. Die grootste wenners is dan skielik nie meer die topatlete by die Olimpiese Spele nie, maar ek en jy. Want ons ontvang meer as ‘n goue medalje. Ons ontvang die prys wat die kruis bring. Ons ontvang die Lewe.
~Deur Carolina Botha.

Sterkte aan almal gedurende die tyd, bly veilig en bly aktief🏃‍♀️🏃‍♂️